Édith Piaf

Édith Piaf (* 19 Desember 1915 as Édith Giovanna Gassion, † 10 Oktober 1963) was 'n Franse sangeres en kultuurikoon van Algeriese en Italiaanse afkoms[1][2][3] wat as een van Frankryk se gewildste sangers bekend staan.[4] Piaf het haar lewe in haar sang uitgebeeld, en haar spesialiteit was die ballade. Van haar bekende snitte is "La vie en rose" (1946), "Hymne à l'amour" (1949), "Milord" (1959), "Non, je ne regrette rien" (1960), "l'Accordéoniste" (1941), "Padam...Padam", en "La Foule".

Édith Piaf
Agtergrondinligting
GeboortenaamÉdith Giovanna Gassion
Ook bekend asLa Môme Piaf
Gebore19 Desember 1915
Belleville, Parys (Franse Derde Republiek)
Sterf10 Oktober 1963
Plascassier, Alpes-Maritimes (Frankryk)
GenresKabaret, moderne chanson
Beroep(e)Sangeres, liedjieskryfster, aktrise
InstrumenteStem
Jare aktief1935 – 1963

Familie

Piaf as kind.
Piaf in 1962.

Ondanks verskeie biografieë is min oor Piaf se lewe bekend.[5] Sy is as Édith Giovanna Gassion gebore[6] in Belleville, Parys. Volgens legende is sy op ’n sypaadjie gebore, maar haar geboortesertifikaat dui aan sy is op 19 Desember 1915 in die Hôpital Tenon in Parys gebore.[7] Haar bynaam, Piaf, wat "mossie" beteken, het sy 20 jaar later gekry.

Haar pa, Louis Alphonse Gassion (1881-1944), was ’n straatakrobaat van Normandië. Haar ma, Annetta Giovanna Maillard (1895-1945), was van Italië; sy was van Franse herkoms aan haar pa se kant en Italiaanse en Marokkaanse herkoms aan haar ma se kant.

Vroeë lewe

Piaf se ma, ’n kafeesangeres, het haar met haar geboorte verlaat en sy het ’n kort rukkie by haar ouma aan moederskant, Emma (Aïcha), gebly. Toe haar pa in 1916 by die Franse leër aansluit om in die Eerste Wêreldoorlog te gaan veg, het hy Piaf by sy ma, wat ’n bordeel in Normandië bestuur het, afgelaai. Daar het prostitute na haar gekyk.[4]

In 1929, op 14-jarige ouderdom, het Piaf by haar pa aangesluit in sy akrobatiese straatvertonings oor die hele Frankryk. Sy het toe die eerste keer in die openbaar gesing.[8] Op 15 het sy Simone "Mômone" Berteaut, wat haar halfsuster kon gewees het, ontmoet en dié het Piaf se metgesel vir die grootste deel van haar lewe geword. Saam het hulle in die straat gesing en geld verdien. Hulle kon met dié geld hul eie plek bekostig.[4]

In 1932 het sy Louis Dupont ontmoet en op hom verlief geraak. Ná ’n kort tyd het hy by haar en Mômone ingetrek. Hy het vir haar ander werke probeer kry, maar sy was nie daarvoor te vinde nie totdat sy swanger geraak en vir ’n kort rukkie kranse in ’n fabriek gemaak het.[9]

In Februarie 1933 het die 17-jarige Piaf die lewe aan haar dogter, Marcelle, geskenk. Nes vir haar ma, was dit vir haar moeilik om vir die kind te sorg, want sy het min moedersinstink, kennis van ouerskap en huishoudelike vaardighede gehad. Sy het gou na die strate teruggekeer tot die somer van 1933, toe sy in Juan-les-Pins, Rue Pigalle, begin sing het.[9]

Ná ’n rusie oor haar gedrag is Piaf en Dupont (Marcelle se pa) uitmekaar. Sy, Mômone en Marcelle het in ’n hotel gewoon en Piaf het Marcelle alleen in die kamer gelos wanneer sy gaan sing het. Dupont het Marcelle eindelik kom haal en sy is op tweejarige ouderdom aan meningitis dood. Daar word beweer Piaf het met ’n man geslaap om vir die begrafnis te betaal.[9][10]

Sangloopbaan

Piaf in 1951 in Parys.

In 1935 is Piaf in die Pigalle-gebied van Parys ontdek[4] deur die nagkluneienaar Louis Leplée.[6] Sy klub, Le Gerny's, was naby die Champs-Élysées[11] en is besoek deur mense uit die hoër én laer stand. Hy het haar oorreed om te sing al was sy vreeslik senuagtig. Dit, saam met haar lengte van net 142 cm (’n outydse 4 voet 8 duim),[7][12] het hom geïnspireer om haar die bynaam te gee wat sy vir die res van haar lewe as verhoognaam sou hou: La Môme Piaf[6] (Paryse slang vir "Die Klein Mossie").[4] Leplée het haar die basiese dinge van verhoogoptrede geleer en haar aangesê om ’n swart rok te dra; dit sou haar handelsmerk word.[4]

Leplée het ’n groot openbare veldtog geloods vir Piaf se openingsaand, met baie bekendes wat dit sou bywoon.[4] Haar optrede het gelei tot twee plate wat in dieselfde jaar opgeneem is.[12] In 1940 het Piaf in Jean Cocteau se suksesvolle vertoning Le Bel Indifférent opgetree.[4] Sy het die liriek van baie van haar liedjies geskryf. In die lente van 1944 het sy saam met Yves Montand in die Moulin Rouge opgetree en ’n liefdesverhouding met hom begin.[7][13]

In 1947 het sy die liriek van die liedjie "Mais qu’est-ce que j’ai ?" ("Wat kan ek doen?") vir Montand geskryf (musiek deur Henri Betti). Binne ’n jaar het hy een van die beroemdste sangers in Frankryk geword. Sy het die verhouding beëindig toe hy amper net so beroemd soos sy word.[4]

In dié tyd was sy hoog in aanvraag in Parys[6] as Frankryk se gewildste vermaakkunstenaar.[12] Ná die Tweede Wêreldoorlog het sy internasionaal beroemd geword[6] en in Europa, die VSA en Suid-Amerika getoer. Sy het in die vroeë 1950's gehelp om Charles Aznavour se loopbaan te laat vlam vat deur hom saam met haar op toer te neem en van sy liedjies op te neem.[4]

Piaf se bekendste liedjie, "La Vie en rose",[4] is in 1945 geskryf en het in 1998 ’n Grammy Hall of Fame-prys gewen. Bruno Coquatrix se bekende Paris Olympia-musieksaal is waar Piaf tussen Januarie 1955 en Oktober 1962 ewigdurende roem behaal het.[7] In April 1963 het sy haar laaste liedjie, "L'Homme de Berlin", opgeneem.

Verwysings

  1. Piaf: the triumphant return of La Môme, The Independent, Donderdag 8 Februarie 2007
  2. On the trail of Edith Piaf, Otago Daily Times, Dinsdag 16 September 2008
  3. Jacques Verrière, Genèse de la nation française‎, Flammarion, 2000, p.119
  4. "Édith Piaf: Biography" (in Engels). Yahoo! Music. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 11 Mei 2008. Besoek op 19 Julie 2007.
  5. Morris, Wesley (15 Junie 2007). "A complex portrait of a spellbinding singer". The Boston Globe (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 4 Maart 2016. Besoek op 3 September 2009.
  6. Rainer, Peter (8 Junie 2007). "'La Vie en rose': Édith Piaf's encore". The Christian Science Monitor (in Engels). Boston. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 10 Mei 2020. Besoek op 3 September 2009.
  7. "Biography: Édith Piaf". Radio France Internationale Musique. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 27 Februarie 2003. Besoek op 3 September 2009.
  8. Willsher, Kim (12 April 2015). "France celebrates singer Edith Piaf with exhibition for centenary of her birth". The Guardian (in Engels). ISSN 0261-3077. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 2 Maart 2020. Besoek op 15 Augustus 2017.
  9. "Piaf's Paris" (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 19 Mei 2019. Besoek op 9 Junie 2013.
  10. Allen, Brooke (28 Maart 2011). ""No Regrets": Discovering Edith Piaf's epically messy love life". Salon (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 19 Maart 2020. Besoek op 2 Augustus 2014.
  11. Ray, Joe (11 Oktober 2003). "Édith Piaf and Jacques Brel live again in Paris: The two legendary singers are making a comeback in cafes and theatres in the City of Light". The Vancouver Sun (in Engels). Kanada. p. F3. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 11 Desember 2012. Besoek op 18 Julie 2007.
  12. Fine, Marshall (4 Junie 2007). "The soul of the Sparrow". Daily News (in Engels). New York. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 26 Maart 2009. Besoek op 19 Julie 2007.
  13. Mayer, Andre (8 Junie 2007). "Songbird" (in Engels). CBC. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 12 Maart 2017. Besoek op 19 Julie 2007.
This article is issued from Wikipedia. The text is licensed under Creative Commons - Attribution - Sharealike. Additional terms may apply for the media files.